Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 10 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 10, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 10 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

Onlangs het ek eers besef, wanneer Jesus die dissipels leer om te bid, “Laat u koninkryk kom” (in Matt 6:10; Luk 11:2), ons Hemelse Vader reeds daarin voorsien het. Die koninkryk van God het reeds gekom!  Jesus se eerste woorde in die Markusevangelie is, “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom” (1:15).   Die magtiges van die wêreld sou alles in hulle vermoë doen om dit te keer – ons sien dit by Golgotha, máár, onsuksesvol! Daardie Pinksterdag, met die uitstort van die Heilige Gees, het die koninkryk van God aangebreek:  met Jesus, aan die regterhand van God (die “regeerhand”) en die Heilige Gees op aarde.  Maak dit meer sigbaar, Here, pleit ons:  “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” 

Hoe lyk die wil van God?  As God liefde is, is God se wil ook liefde. Is dit nie wat Jesus die wetgeleerde geantwoord het nie (Matt 22:36-40)?  Waar God se wil teëgestaan word, is daar magsvergrype en onderdrukking; selfsug en selfverryking; ellende en uitsigloosheid.  God se wil staan direk in stryd met die mens se sondige wil. Of soos Paulus dit stel, “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar…” (Gal 5:17).  Daarom, “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie” (v16).

Ons sien in Handelinge 2:43-47 hoe dit lyk waar mense optree volgens God se wil:  hulle is eensgesind en mededeelsaam; hulle versorg mekaar; hulle aanbid God saam; hulle kuier saam; daar is sigbare blydskap.  Dit is hoe dit in God se koninkryk lyk.  Dit is wat die Heilige Gees moontlik gemaak het!

KUNS-INSPIRASIE: Die Quaker-predikant en skilder Edward Hicks is veral bekend vir sy Vredeliewende Koninkryksbeelde, waarvan 62 bestaan. Die skilderye verteenwoordig 'n messiaanse profesie in die boek Jesaja (11:6): "Die wolf sal ook by die lam woon, en die luiperd sal by die kind gaan lê; en die kalf en die jong leeu en die vet saam; en 'n klein kindjie sal hulle lei." 


GEBED:     Ons Vader wat in die hemel is, dankie dat U koninkryk gekom het!  Laat U wil al meer-en-meer geskied.

POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

MUSIEK: Op Dag 10 van #Brandpunt luister ons na Jannie du Toit se lied “Laat U Koninkryk Kom” van sy album Sing Van Geloof, Hoop En Liefde.

https://youtu.be/P0Y-22tydD4