Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 16 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 16, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 16 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

Wysheid – so het ons nou al gesien - is ‘n geskenk van die Heilige Gees aan gelowiges.  As jy wysheid kortkom, mag jy daarvoor bid (Jak 1:5)!  En onthou:  net jou gedrag kan wys of jy wys is.  Dit is wat Paulus die “vrug van die Heilige Gees” noem (Gal 5:22-24), of die “kenmerk” van iemand wat “in en deur en tot” die Heilige Gees leef. Eerstens is dit liefde:  “ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid” (1 Joh 3:18).  Tweedens sal die vrug van die Heilige Gees die smaak van vreugde hê (sien Dag #15).

 

Die derde bewys (of kenmerk van die vrug) is vrede.  Ons dink gewoonlik dadelik aan die afwesigheid van oorlog; maar soms is ‘n groter oorlog – soos Antonius die Grote (3de eeu) sou sê - daardie een wat in ons gemoed afspeel.  Een van my wysheids-leermeesters leer my:  “Jou lewe speel af tussen die piektye van groot geluk en meer winterige tye. Leer om deur dit alles op koers te bly en jou nie deur al die winde van die lewe te laat rondpluk nie.”  

 

Soms kan dit ander se verwagtinge wees wat ons rondslinger; maar meestal is dit ons eie verwagtinge  en ideale van hoe die lewe behoort te wees, wat ons van ons kalmte van gemoed beroof.  Vrede, daarenteen, is om in vertroosting te sit en te weet dat God langs jou sy is, maak nie saak wát nie.  Soos Paulus leer, “Godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins” (1 Tim 6:6 – uit die 1953 vertaling).  Of, soos ons sing:  “As die lewenstorme woedend om jou slaan, en jy gans ontmoedig vrees om te vergaan, tel jou seëninge tel hul een vir een en jy sal verbaas wees oor wat God verleen.”

 

GEBED:   Laat niks my beroof van die gemoedsvrede wat van U af kom nie, my Here.   

 

POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

 

MUSIEK:  Op Dag 16 van #Brandpunt kyk ons na ’n grendeltyd-video van die SingFonix- kamerkoor se “Vrugte van die Gees” lied.

Hulle skryf te midde van die verwoestende werklikheid van die Corona-virus, was dit 'n ryk en lonende ervaring om saam met SingFonix, Betsie en Evert tydens die inperking musiek te maak. “Almal het hul deel by die huis opgeneem en toe dit bymekaar gekom het, het dit my herinner dat die lewe nie perfek is nie, maar die manier waarop ons dit sien, kan mooi wees. Mag elkeen wat betrokke is en elkeen wat luister, geseën word met die vrug van die Gees.”

https://youtu.be/pHx8DLa1NOM