Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 17 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 17, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 17 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

Onlangs moes ek ‘n lang afstand per motor aflê.  Net met my eie geselskap kan só ‘n pad nimmereindigend voel, en as dit nie vir die spoedkontrole was nie, sou my voet beslis soms te hard getrap het.  Oral langs die pad sien jy waarskuwingsbordjies:  oppas, die pad is glad as dit nat is; slaggate voor; verminder spoed; skerp draai, ens.  Soortgelyke bordjies word oral in ons eie lewens ook opgerig; ignoreer dit, dan is daar altyd implikasies - óf vir onsself, óf vir ander.  Geduld is ons “ry stadiger”-bordjie.  Híér kan jy nie nou jaag nie; verminder spoed! Die omstandighede van die pad vereis nou geduld!

Een Bybelwoordeboek definieer geduld as “Godgegewe selfbeheersing in die aangesig van opposisie of onderdrukking”. Wow!  Net wanneer jy jouself “in stryd” met iemand (of jouself) of ‘n situasie beleef, dan het jy geduld nodig.  Ek moet bely: hoeveel keer ignoreer ek nie die “waarskuwingsbordjies” langs die pad nie, en in plaas van spoed verminder (geduldig wees), trap ek die versneller tot by die rooimeter van ongeduld.  

Waarom is geduld vir God so belangrik dat dit as ‘n “vrug van die Heilige Gees” (Gal 5:22) beskou word?  Eenvoudig, want God is geduldig!  God se wese is liefde; en as Paulus in 1 Kor 13:4 herinner, “Die liefde is geduldig”, daarom is God se wese geduld!  Die teenwoordigheid van die God-van-Liefde in ons lewe kan gemeet word aan ons geduld. Omdat ons na die beeld van God geskape is, is enigiets wat ongeduldig is, dus nie ‘n uitbeelding van God nie.  Ongeduld is dus ‘n wanuitbeelding van wie God is!   

Net soos liefde en vreugde deur gebed groei, so groei geduld ook danksy gebed!  “Wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed”, skryf leer Romeine 12:12.

Ek weet, as ek ongeduldig is, dan bid ek te min.  En jy?

GEBED:  Geduldige God, U wat lankmoedig en vol liefde is, vorm my tot U beeld.

KUNS-INSPIRASIE:  Die rooi stop-ampelmännchen op verkeersligte in Duitsland.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

MUSIEK: Op Dag 17 van #Brandpunt kyk ons na die liriek-video van Lincoln Brewster se pragtige lied “While I Wait”.

Uit die liriek:

While I wait, I will worship
Lord, I'll worship Your name
While I wait, I will trust You
Lord, I'll trust You all the same

Lincoln skryf hy het so ‘n sterk belewing dat God gesê het "maak goed gebruik van die wag." Dit was die inspirasie vir die lied. “Eerlikwaar, ek is steeds nie baie goed daarmee nie, maar dit het my 'n nuwe hantering vir moeilike en onsekere tye gegee. Wat is 'n beter ding om te doen in 'n tyd van moeilikheid of onsekerheid as om die Een te aanbid wat dit alles in sy hande hou.”

https://youtu.be/NswPPVgMaPE