Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 18 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 18, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 18 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

Martin Luther - wat met die groot Kerkhervorming in die 16de eeu begin het - het van die Galasiërsbrief gepraat as sy “ander Katie van Bora.”  Hy en Katie (dis nou die “regte” een) was baie gelukkig getroud; maar die “ander Katie” – die Galasiërsbrief – het ook sy hart gesteel.  Veral die woorde in Gal 2:6, “Ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.”  Álles, álles is genade -  Sola Gratia! Soos ons gereeld sê, ons kan niks doen dat God ons méér lief sal hê nie; maar ons kan ook niks doen dat God ons mínder sal liefhê nie.  Daar is geen wette wat ons moet (of kan) volg om God se genade te kan verdien nie.   

In Gal 5:18 herhaal Paulus:  “As julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.”  Weereens:  álles, álles is genade!  Daar is wel een “wet” waaroor Paulus nie afwysend was nie – of, soos hy sê, “Teen sulke dinge het die wet niks nie” (5:23) - en dit om die vrug van die Heilige Gees in jou lewe oes te laat oplewer. Net om God se genade nog beter te verstaan: hierdie “wet” (die vrug van die Heilige Gees) is nie iets wat jy kan doen nie, ook dit word aan jou gegee.  Al hierdie eienskappe - “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” – is God se geskenk aan jou.  Dit kan nie verminder nie, dit kan wel toeneem.

Begeer jy al meer van die vrug van die Gees op alle vlakke van jou lewe?  In jou huwelik? In jou beroep?  In jou menseverhoudinge?  Jy mag ‘n Godvrugtige lewe begeer!   God wil dit vir jou gee.

GEBED:  Ek begeer, Here, dat U Gees my lewe volledig sal begeer!

POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


MUSIEK:  Op Dag 18 van #Brandpunt luister ons na “Genade Reën” van die groep  Kaleidoskoop soos op hulle album “Vars Uitgekerf”.

Uit die liriek : 

Voel jy en sien jy
Soveel nuwe kleure
Soveel meer vrede
Voel jy en sien jy
Onvoorwaardelike liefde
Onvoorwaardelik vir my
My koördinate gaan bepaal of ek die genadevlug gaan haal
Kaartjie’s gekoop, moet egter steeds as passasier daarop loop
My posisie gaan bepaal of ek kurkdroog onder die afdak staan
Of papsopnat gaan dans in genade reën wat neerslaan