Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 19 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 19, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 19 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

Spottenderwys sê ons maklik, “wette is gemaak om gebreek te word.”  (Dit is ook maar net as jy nie uitgevang word nie, né.)   Die bedoeling van wetgewing is om ‘n veilige samelewing te verseker, maar, die probleem, aldus Heb 7:19, is dat wette dit nie regkry om “volmaaktheid” te bewerk nie.   

Met wetgewing kan ‘n mens nie alle gedrag beheer nie, selfs al sou jy wou.  Kan jy iemand keer wat vriendelik of goedhartig wil wees?  Kan jy iemand daarvan weerhou om ‘n sagte hart te hê, of om nederig te wees?    

Die ou kerkvader uit die 4de eeu, Augustinus, het eenmaal gesê, as jy liefde kies kan jy maar doen wat jy wil.  Vanselfsprekend, want kies jy liefde, is jou dade reg.  As jy die liefde kies is die belange van jou medemens vir jou so hoog soos jou liefde vir jouself en vir jou Skepper.  Die vraag is net, wie het hierdie liefde?  

Die Bybel sê dit is moontlik!  Moet net nie self probeer nie – verseker sal jy misluk!  Máár, daar is ‘n manier hoe om hierdie buitengewone liefde te ontdek – dit is beskikbaar vir almal wat “in die geloof die vrye toegang verkry tot die genade (van God)” (Rom 5:2).  Hierdie liefde is vrylik, vrylik beskikbaar:  dit is God se liefde wat Hy self “in ons harte uitstort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom 5:5).  

Aldus die teoloog, John Piper, is liefde “die oorvloed van vreugde in God! Dit is nie plig nie. Dit is nie 'n doelgerigte versaking van jou eie beswil t.w.v. die beswil van iemand anders nie. Dit is om self die volheid van God se genade te kon beleef, en om daarna die voorreg te hê om die genade met 'n ander persoon te kan deel.” Liefde is dus ‘n dubbele voorreg!

GEBED:  Genadige God, hoe groot is U liefde waaraan U my vrylik laat deel.
KUNS-INSPIRASIE:  Kontemporêre Abstrakte Kuns deur “I keep falling in LOVE with Him” van hubpages.com.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

MUSIEK:  Op Dag 19 van #Brandpunt kyk ons na die musiekvideo van Retief Burger se “Hoe Groot Is U Liefde”.

Uit die liriek: 

Geen groter liefde
Het iemand ooit gesien nie
Geen groter liefde
Het die wêreld ooit geken nie
Toe die Een wat sterre
Met Sy Woorde skep
Sy troon verlaat
Om die mensdom te kom red
Hoe groot is U liefde

https://youtu.be/K92OM5oZgyY