Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 20 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 20, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 20 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

Iemand het eenmaal gesê, “Tyd alleen saam met God is nooit tyd alleen nie.”  Ek het dit onlangs ervaar.  Erens het ek die GPS se leiding verkeerd gehoor, en voila, daar land ek op ‘n grondpad – reg deur die Karoo (of so het dit gevoel!)  Aanvanklik was ek doodsbenoud, en skielik het die woorde van Paulus by my opgekom:  “God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” Ek het ‘n keuse gehad:  óf ek bly angstig, óf ek gee myself aan die ervaring oor, ontspan en geniet die omgewing.  Elke kilometer raak ‘n loflied!   Die woorde word my “mantra”:  wonderbaarlike rykdom… wonderbaarlike rykdom…

Daardie aand het ek die teks gaan opsoek:  “Dit gaan nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. … Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen” (Fil 4:17-20).
 
Jesus Christus is God se “wonderbaarlike rykdom”:  Immers sal God self, “in die tye wat kom (vir die wêreld) laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het” (Ef 2:7).  Soos Christus God se wonderbaarlike rykdom” aan ons is, so is die Heilige Gees weer Christus se “wonderbaarlike rykdom” aan ons (aldus Hand 14:26).  Die Heilige Gees gee weer aan ons die grootste gawe van alles:  liefde (aldus 1 Kor 13:13); en dan nog boonop hoop en geloof ook!  Wonderbaarlike rykdom, inderdaad.  Jy het geen groter gawe om die wêreld te bied nie as liefde – só bied jy God self aan die wêreld.  Dit is ‘n offer met lieflike geur, vir God aanneemlik en welgevallig.

GEBED:  Mag my offers van liefde vir U welgevallig wees, my Here en my God!

KUNS-INSPIRASIE:  Pierneef se skildery “Karoo” 1932. Tans in die Rupert Museum. Foto van die Erfnisstigting Stellenbosch. "... 'n voorbeeld van 'n landskap vry van mense en oorheers deur 'n uitspansel van die lug met 'n heldhaftige stapel wolke, of 'n berg-silhoeët wat twee-derdes van die ruimte neem - 'n toneel dikwels na verwys as 'Pierneef-gebied'."


POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


MUSIEK: Op Dag 20 van #Brandpunt kyk ons na die musiekvideo van “There Is A Place” deur Nathaniel Bassey.  Nathaniel Bassey is 'n bekende Nigeriese sanger, pastoor, trompetspeler en gospelliedjieskrywer wat in Lagos woon.

Uit die liriek: 

There is a place (there is a place)
That I love to dwell (that I love to dwell)
It's the presence of my Father
All the host of heaven gather
Worshiping, bowing down before Him
Let the trumpet sound

https://youtu.be/lWGx7EL_rsQ


POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/