Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 22 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 22, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 22 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

Natuurlik kan ons nie in 30 dae klaar gesels oor die werk van die Heilige Gees nie.  Wat ons herhááldelik moet sê, is dat die Heilige Gees net één doel het, naamlik om die werk van Jesus voort sit:  “Hy sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh 15:26-27). Die Gees sal niks sê wat Jesus se boodskap weerspreek nie: “Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid … sal Hy oor My getuig. En julle moet getuig …” (Joh 14:33).

Som ‘n mens die rede vir Jesus se menswees op, dan is Johannes ook duidelik daaroor:  “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het” (Joh 3:16).  Jesus is die genadige liefdeshand wat God na mense uitsteek.  Op die vooraand van Jesus se dood wys Jesus hoe God se liefde lyk:  Hy was die dissipels se voete.  Blaai gerus deur Jesus se laaste preek (Joh 14-16) dan lees jy hoe Jesus  – herhalend – die liefdesopdrag beklemtoon.  “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.  Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh 15:12-13).  En in elke hoofstuk herhaal Jesus dat die Heilige Gees ons sal help.  Som dit eenvoudig so op:  die werk van die Heilige Gees is om ons te leer en te help om lief te hê!  Die manier hoe die wêreld Jesus sal leer ken, is op die wyse hoe ons sal liefhê:  op die Jesusmanier! 

Die gawes wat die Heilige Gees uitdeel (waarna ons in die volgende dae sal kyk) is om ons te help om lief te hê.  Die vrug van die Gees is om liefde sigbaar te maak.  

GEBED:  Jesus, U is God se liefdesboodskap waaraan die Gees ons herinner.  Gebruik ons om U liefdesboodskap voort te sit.

KUNS-INSPIRASIE:  Giovanni Agostino da Lodi se skildery “Christus was die voete van die Apostels” (1500) deur Gallerie dell'Accademia, Venesië.

POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com

MUSIEK : Op Dag 22 van #Brandpunt kyk ons na die pasvrygestelde musiekvideo “Trinity Street” van die eklektiese, bekroonde wêreld- en Nederlands gebasseerde popgroep Trinity.  
Met ‘n behoefte om nuwe materiaal ná die pandemie te skryf, het die Trinity-broers Johan (akoestiese kitare), Elbert (hoofstem, fluite, saksofoon) en Niek Smelt (Ttomme, perkussie) saam met hul jarelange vriend Bert Bos (bas) na Ierland getoer. Dis die plek waar hul liefde vir volksmusiek en Keltiese spiritualiteit begin het.  Daar is altyds 'n Ierse draai in hul klank en lirieke.
"Trinitystraat koester die verlede terwyl ons terselfdertyd vorentoe beweeg na 'n toekoms," skryf Elbert voort. “Met 'n kinderlike vertroue en opregte wonder soek ons God in vriend en vreemdeling.”

https://youtu.be/fve8Btsvywk