Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 23 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 23, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 23 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

Is dit nie verstommend nie dat daar vandag nog onder soveel gelowiges ‘n “kompetisie” is oor wie nou eintlik “reg” glo.  Ek onthou van kindsdae hoe daar half neerhalend gesels was oor die sg. charismatiese gelowiges op die dorp.  Vandag leef ons weer in ‘n era waar daar meerderwaardig gesels word oor die sg. “sterwende” hoofstroomgemeentes.  Eers het sommige denominasies “te veel” van die Heilige Gees gemaak; vandag maak sekeres weer “te min”.  Eers was dit bykans ‘n skande as daar iemand in die familie was wat “groot gedoop” is;  vandag is dit vir baie onverstaanbaar dat daar nog ouers is wat hul baba’s wil doop.  Wanneer die groot herlewingstente destyds aan die buitekant van die dorp gestaan het, het baie mense kopskuddend gepraat oor al die vreemdhede wat daar gebeur.  Vandag sal baie mense weer daarop aandring dat jy sekere besondere gawes van die Heilige Gees moet hê as bewys van jou geloof.

Wanneer ons oor die gawes van die Heilige Gees wil nadink, moet ons eerstens onthou, “Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee…. Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal” (1 Kor 12:4-7).  Niemand is oorgeslaan nie!  Maar niemand s’n is belangriker – of noodsaakliker - as ‘n ander s’n nie!   So het ek self nog nooit in tale gebid (of die begeerte daarna gehad) nie.  Maak dit van my ‘n minderwaardige gelowige?  Maar, durf ek neerhalend van iemand se gawe praat, net omdat ek dit nie begryp nie?  Ons roeping is om “te streef na dié (gawes) wat tot opbou van die gemeente dien, sodat almal daarin kan uitmunt” nie (1 Kor 14:12)?  En wat is daardie gawe?  Natuurlik – die gawe van liefde!  

Op watter wyse is jou geloofsgawe tot diens van die gemeente sodat broers en susters daarby kan baat?  

GEBED:  Weerhou my daarvan, Heilige Gees, om die liggaam van Christus se opbou deur my eie voorkeure te beperk.  

KUNS-INSPIRASIE:  Gerolamo Muziano (1528-1592), Die uitstorting van die Heilige Gees, Apostoliese Paleis, Kamer van Huldeblyke, Vatikaanse Museum. 

POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com

MUSIEK:  Op Dag 23 van #Brandpunt kyk ons na die liriekvideo van Chris Tomlin se lied “Gifts From God” saam met  Chris Lane. 

Uit die liriek:

Back when I was a kid I thought gifts from God only came from church
But the more that I love, the more I learn, it’s not always the way it works
Sometimes you don’t see it till your looking back
When ya didn’t get what ya thought ya had to have
Cus He had a bigger plan than the one you had
Yours didn’t work out and aren’t you glad

https://youtu.be/cfLGfuINnG4