Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 26 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 26, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 26 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

Ek hoor gereeld dat christene opgeroep word om hulle te laat doop met die Heilige Gees.  Is daar dan iets “addisioneel” wat christene later moet ontvang, nadat hulle tot bekering gekom het? Hierdie is ‘n vraag wat ‘n vriendin ook onlangs vra, nadat haar dogter op ‘n vrouekamp was, en die groepleier hulle met die Heilige Gees “gesalf” het.   

Ek bevraagteken nooit iemand se goed-bedoeldheid wat beweer dat jy gedoop moet word met die Heilige Gees nie, maar ons moet mooi kyk na wat die Bybel ons leer.  Daar is geen teksgedeelte waar ons die opdrag ontvang om weer met die Heilige Gees gedoop te word nie.  As die Heilige Gees ‘n persoon is – soos ons bely – dan is ‘n persoon nie “bietjies-bietjies” teenwoordig nie.  Jy is of teenwoordig, of jy is nie.  Die Heilige Gees is reeds in jou wanneer jy tot bekering kom - ons glo mos “niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor 12:3).  Geloof is ‘n genadegawe van God wat jy net deur die Heilige Gees kan ontvang.     

Maar, ons kry wel ‘n opdrag, “laat die Gees julle vervul” (Ef 5:18).  Dalk is die vertaling in Gal 5:16 duideliker:  “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word.”  Iemand het eenmaal gesê dat die Heilige Gees “die skugtere” van die Drie-Eenheid is.  Die Gees is teenwoordig, maar as jy die Gees se teenwoordigheid nie erken nie, of dit teenstaan, of jouself net gedeeltelik daaraan onderwerp, gaan die Gees jou nie “boelie” nie.  Dit is wel jy wat gaan uitmis!  

In Teologie-taal kan ons dit so stel:  regverdigmaking is God se genade (dit is m.a.w. die doop met die Heilige Gees); heiligmaking is jou keuse (dit is dat die Gees jou lewe beheer).  

GEBED:  Dankie dat ek U genadegeskenk nie hoef te herhaal nie, Here, laat ek my net daaraan oorgee.
  

KUNS-INSPIRASIE:  Drukwerk “Die afkoms van die Heilige Gees (Die Pinkster)” (1509–1511) uit Die Klein Passiereeks van die Duitse drukmaker Albrecht Dürer.  Houtsnee druk op papier.

POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

MUSIEK:  Op Dag 26 van #Brandpunt kyk ons na ’n video-opname van “Pass me not, O gentle Saviour” van William Doane verwerk deur Robert Bailey.   Die sopraan Syndy-Lee Peffer en pianis Ricardo McCarthy voer dit saam met die Nuwe Apostoliese Kerk Suid-Afrika se se stryk-ensemble uit.  

Uit die liriek:

Trusting only in Thy merit
Would I seek Thy face
Heal my wounded, broken spirit
Save me by Thy grace
Savior, Savior
Hear my humble cry
While on others Thou art calling
Do not pass me by
Thou the spring of all my comfort
More than life to me
Whom have I on earth beside Thee?
Whom in Heav'n but Thee?

https://youtu.be/RUSiTX1pdVw

Interessant: William Doane (3 Februarie 1832 – 24 Desember 1915) was 'n vervaardiger, uitvinder, gesangskrywer, koorregisseur, kerkleier en filantroop. Hy het meer as 2 000 kerksange gekomponeer. Meer as sewentig patente word aan hom gekrediteer vir innovasies in houtwerkmasjinerie.