Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 29 van Meditasie-reeks #Brandpunt

June 29, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 29 van Meditasie-reeks #Brandpunt
Show Notes

In “Spirit at Work” skryf Craig Keener, “Stel jouself voor jy besoek 'n dorp in die nag waar geen ligte skyn nie, geen televisies speel nie, of geen ander kragtoestelle werk nie.  (Klink bekend, nè…) Maar, stel jouself voor dat jy ontdek dat die dorp nie ‘n probleem met kragopwekking het nie.  Dit is bloot dat niemand in die dorp daaraan dink om hulle elektriese toebehore te gebruik nie.  Alles is beskikbaar, maar almal sit in die donker.  Jy sal net jou kop skud!  Soveel keer funksioneer die Kerk soos daardie dorp.  God het aan ons die kragtige werking van Sy Gees gegee, sodat ons ons roeping in die wêreld kan vervul, maar hoeveel van ons maak werklik van God se krag gebruik?”   

Dit is waar, jy kan net daarvan gebruik maak as jy daarvan kennis dra.  Maar juis te meer – ons doen!  Dit is nie dat ons ons roeping moet volvoer vanuit ons eie krag nie!  Nee, soos Paulus herinner:  “Die krag van Christus kom juis tot volle werking wanneer ons swak is”  (2 Kor 12:9-10).   Maar luister net hoe getuig Paulus, “Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God” (Rom 15:18-19).

Daar is werklik geen beproewing of uitdaging te sterk om ons roeping as gelowiges uit te leef nie!  Soos Paulus ons herinner, “(Ons) is tot alles in staat deur Hom wat ons krag gee” (Fil 4:13).  En God, wat die “bron van hoop” is, sal jou met al die vreugde en vrede vul, deur jou geloof, “sodat jou hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees” (Rom 15:13).

GEBED:  U is my bron van hoop!  Dankie dat U Gees my sterk en getrou maak.

KUNS-INSPIRASIE: Christus in die woestyn, 1939 (Olie op Doek), deur Gustave Van de Woestijne.  Gustave was 'n Belgiese ekspressionistiese skilder. Hy behoort aan die sogenaamde "First Group of Latem", 'n groep kunstenaars wat in die landelike dorpie Sint-Martens-Latem aan die oewer van die Lys, naby Gent, gewerk het. Hy was die broer van die Vlaamse digter Karel Van de Woestijne.

POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

MUSIEK:   Op Dag 29 van #Brandpunt kyk ons na die liriek-video van Jesus Culture se lied “Holy Spirit”.

Uit die liriek:

I've tasted and seen
Of the sweetest of Loves
Where my heart becomes free
And my shame is undone
In Your Presence Lord
Holy Spirit You are welcome here
Come flood this place and fill the atmosphere
Your Glory God is what our hearts long for
To be overcome by Your Presence Lord


https://youtu.be/qNwnOfZ5N8A