Dertig dae gelede het ons hierdie reeks begin met die herinnering dat ons “vrye toegang het tot 'n kragbron wat met 'n sterk stroom - ononderbroke - vloei waarby ons mag inprop. 'n Kragbron direk uit God se hand! 'n Brandpunt wat die gloed van God kan laat skyn.”
Met Jesus se hemelvaart het Hy (in Hand 1:9) beloof, “Julle sal ‘KRAG’ ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom”. Onbeperk. Vrylik beskikbaar. Dit is ons geskenk. Intussen het Pinkster aangebreek. Die krag is oor ons uitgestort.
Vir jou en myself bid ek ook die woorde toe wat Paulus vir die gemeente in Kolossense gebid het: “Mag ons vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag (aan ons) alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard” (Kol 1:10-11). Dank God dat ons nie hierdie werk uit ons eie hoef te doen nie, maar dat dit juis God is wat “deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan ons die krag sal gee om innerlik sterk te word" (Ef 3:16.)
Baie dankie dat jy hierdie Pinksterreeks saam met my gevolg het. Mag die Gees van Wysheid ons met ons nuwe reeks bystaan wat van môre af die tema van wysheid voortsit.
GEBED: Kom, o Skepper Gees,
Lewendmakend Gees;
Kom in al U volheid.
Kom in al U krag.
Lei my in U waarheid;
Leer my van die Vader en Seun.
Wees U ook my Trooster.
Kom, o Skepper Gees.*
(* aangehaal uit die Liedboek No 23)
KUNS-INSPIRASIE: Ikoon deur onbekende skrywer, “Uitstorting van die Heilige Gees”, 12de eeu, in die Nasionale Museum van Georgia.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Paslik kyk ons op Dag 30 van #Brandpunt na Stefan Ebersohn se musiekvideo van “Kom, o Skepper Gees”. Stefan, wat ’n musiekstudio bedryf in Polokwane, het verskeie ander verwerkings wat op YouTube en ander stromingsplatforms geluister kan word.
https://youtu.be/UIhb9eyEHHY