Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 23 van dagstukkie-reeks Lig

December 23, 2021
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 23 van dagstukkie-reeks Lig
Show Notes

Ons kan na onsself verwys as “tussen-in mense”.  Beide die vertrekpunt en eindbestemming is vas: ons leef tussen die eerste koms van Jesus en sy laaste koms.  Ons is adventmense.  Op reis, in afwagting, geduldig.  

Geduld is nie juis die woord wat ek verbind met ‘n lang reis nie.  Veral nie as ‘n kind nie!  Veral nie as die bestemming ‘n vakansie by die see is nie!  “Hoe lank nog, Pappa?”  “Net oor die bult.”  En kom ons oor die bult, dan lê Colesberg voor ons.  “Is ons al naby?”  “Net oor die bult.”

Een reis wat werklik ‘n leeftyd-lank geduur het was die reis tussen Egipte en die Beloofde Land.  Dis vreemd, want as jy die vanselfsprekende karavaanroete sou neem – kuslangs - sou die bestemming binne twee weke voltooi kon wees.  Tog, aldus Eks 13:17-18, besluit God om die Israeliete met ‘n ompad te neem. ‘n Woestynpad! En dit ter wille van hul eie beswil!  Nogal! (Ek vind myself in die voorste linies van die murmureer-span!)  ‘n Klaende volk op reis, saam met God.  Die Navigeerder wat die Israeliete moet leer vertrou.  

“Die Here het bedags met 'n wolkkolom voor hulle uit gegaan om vir hulle die pad te wys en snags met 'n vuurkolom om vir hulle lig te verskaf, sodat hulle dag en nag kon trek. Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het altyd voor die volk gebly”  (Eks 13:21-22).  God, die Ligtoring, altyd voor oog!

Oor twee dae is nóg ‘n adventstyd verby!  Ek en jy sit ons lewensreis Voort.  Welwetend, die eindpunt is verseker.  “Is ons al naby?”  “Net oor die bult.”  Ons het steeds die Ligtoring in ons midde:  Immanuel.


GEBED:  Here, soveel keer het ek al gevra, “Waarom hierdie pad, Vader?”  Soveel keer antwoord U, “My genade is vir jou genoeg!”  Leer my om U te vertrou.

CORDIS TRUST

Hierdie reeks word as Potgooie beskikbaar gestel deur die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust
 
www.cordistrust.co.za

Luister by: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

MUSIEK 

Op Dag 23 van #Lig kyk ons na ’n nuwe musiekvideo van die bekende Jannie du Toit se  “Somerkersfees”.

Uit die liriek:

Welkom, o stille nag van vrede onder die Suiderkruis
Wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis
Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal
Kyk, selfs die nagtelike swye, vertel die ou verhaal
Voel jy ook nou Sy warm liefde as ons die dag gedenk
Toe Hy Sy Seun aan ons gestuur het, ons grootste kersgeskenk
Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer
Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer


https://youtu.be/8iJ4YT8IllM