God kom nie met ‘n “ontploffing” in ons wêreld in soos ‘n superster wat met rook en dromme op ‘n musiekverhoog verskyn nie. God storm nie ons lewens in en duik ons plat nie. Soms, ja, net soms wens ek dat dit tog wel so kon wees. Sou daar dan enige twyfelende op aarde geleef het? ‘n Jesus, gebore as die seun van ‘n Romeinse Keiser, geskool aan ‘n Griekse Universiteit, wat met die wêreld se beste filosowe kon kompeteer, só ‘n Jesus sou veel vinniger geloofwaardig wees. Dan nog “sonder skoonheid of prag” (aldus Jes 53:2). Lukas vertel dat Jesus se geboorte deur ‘n engelekoor aangekondig is, maar helaas, net die herders kon daarvan getuig – en hulle was allesbehalwe prestige getuies!
Waarom kom God “op hierdie wyse” na ons toe? Vreemd dat ons nog altyd “ietsie meer” wou hê. Meer uitkenbaar. Die dissipels wou ook. “Hoe sal ons U herken?” Soek my tussen die mense, antwoord Jesus. Ek sal lyk “soos een van hulle” … die geringstes (Matt 25:36-41).
Soos die kruisiging en die opstanding nooit net “historiese” gebeurtenisse kan wees nie, maar elke dag in ons lewens moet gebeur; so kan die koms van Jesus nooit net ‘n historiese gebeurtenis wees nie. Jesus stap daagliks ons lewens in. Of soos Teresa van Avila geleer het: “Hy het geen liggaam, behalwe myne en joune nie. Jou oë is die oë waardeur hy met deernis na hierdie wêreld kyk. Jou voete is die voete waarmee hy loop om goed te doen. Jou hande is die hande waardeur hy die hele wêreld seën. Christus het nou geen liggaam op aarde behalwe joune nie.”
Vreugde het ‘n gesig: dit lyk soos myne en joune. Liefde het arms: ons s’n. Hoop word deur ‘n medemens gebring! Vrede ook.
GEBED: Here Jesus, U kom as ‘n mens om my te kom leer hoe ‘n mens moet leef. Laat ek dan soos U wees.
CORDIS TRUST
Hierdie reeks word as Potgooie beskikbaar gestel deur die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust
www.cordistrust.co.za
Luister by: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK
Op Dag 24 van #Lig, Oukersdag, kyk ons na ’n pragtige musiekvideo van “Stille Nag” deur verskeie van die voorste Afrikaanse musikante. Brendan Peyper, Elizma Theron, Refentse, Sean Butler, Elandré, Ons Lieflinge, Nicholis Louw, Ray Dylan en Liezel Pieters is deel van die produksie.
Uit die liriek:
Stille nag, heilige nag,
Alles rus, eensaam wag
Slegs Maria, geseënde vrou
By haar Kindjie, met Josef so trou
Soete Hemelse rus!
Soete Hemelse rus!
https://youtu.be/WTizbjZvUjA