Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 25 van dagstukkie-reeks Lig

December 25, 2021 Ronell Bezuidenhout
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 25 van dagstukkie-reeks Lig
Show Notes

Waar Markus glad nie eers melding maak van die Jesusgeboorte nie; gee Matteus en Lukas ‘n weergawe wat kinders se oë laat skitter, met engelekore en wyse manne wat vir die klein babatjie geskenke bring – en as ons  die kinderbybel illustreerders moes glo, staldiere wat liefderyk oorbuig en die baba in die krip aanbid.  Johannes daarenteen, bied ‘n sober kersverhaal aan.   Sonder goud en wierook.  Hy trek Kersdag terug tot by die skepping waar die Kind se Stem alles tot lewe gespreek het! “Logos” (Woord) noem Johannes Hom.  “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom”  (Joh 1:1-2).  Dan kry die Woord ‘n gesig:  “Hy het mens geword en onder ons kom woon  Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang” (Joh 1:14-16)  ‘n Moderne Engelse vertaling – The Message – vertaal vers 16 só:  “We all live off his generous abundance,   gift after gift after gift.”

Vandag ontvang ek en jy God se vrygewigheid in oormaat, genade tot by die oneindige mag! Die kenmerk van God se genade is dat dit nie ‘n afsnypunt het nie. Jy kan nie jou kwota genade op ontvang nie.  Genade met ‘n rakleeftyd is nie van God afkomstig nie.  Die laaste druppel genade is uitgedeel …en dit hou aan om uitgedeel te word.  Daar bly niks meer oor om te gee nie.  En elke oggend ontvang jy dit weer van vooraf.  Selfs meer as die vorige dag.  

Daar is net een manier hoe jy vandag God se kersgeskenk van genade kan ontvang:  met oop hande!  En môre weer. En oor môre weer.  God se genade spel ‘n mens  J-E-S-U-S.


GEBED:  Genade op genade, dit is U geskenk aan my!  Onuitputlike oorvloedigheid.  U is die Vrygewige God!



CORDIS TRUST

Hierdie reeks word as Potgooie beskikbaar gestel deur die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust
 
www.cordistrust.co.za

Luister by: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

MUSIEK


Op Kersdag, Dag 25, kyk ons na die uitvoering van die lied “The First Noël”, soos verwerk deur Dan Forrest, deur die Drakensberg Seunskoor tydens hul jaarlikse Noël-toer in 2019. Die opname was in die Pietermaritzburgstadsaal.

Dan Forrest se verwerking van die geliefde kerslied neem 'n wondergevulde, reflektiewe blik in die stal in Bethlehem. 

‘n Geseënde Kersfees.

https://youtu.be/a7lkOWAH4fI