Lyn van Rooyen van Randburg skryf: Die tyd voor Kersfees was as kind een van afwagting en opwinding. Kersfees kom! Geskenke kom!
As volwassene het Advent lank nie vir my sin gemaak nie. Jesus is mos gebore. Die Messias het mos gekom. Ons weet mos van Emmanuel, God met ons. Waarna moet ek dan nou nog in Advent uitsien? Waarom nog in afwagting wees? Waarvoor nog "Maranatha, kom Heer Jesus" roep?
Soos ek ouer word, veral in hierdie ongewone epidemie-tyd, het Advent vir my ’n nuwe
betekenis. Richard Rohr skryf* hoe té veel sekerheid, en té veel klem op ons verwagte uitkoms, ons blind maak vir God. Volgens hom vra hierdie tyd eerder van ons "'n doelbewuste leegheid, ‘n nie-vervulling." Dit help my iets verstaan van wat Advent kan wees: nie 'n opgewonde wag vir 'n geskenke nie, maar 'n leegmaak van myself … in verwagting op iets groter.
Advent is ’n hoop op ’n ander realiteit! ‘n Ander manier van leef.
Walter Brueggemann gaan verder: “Kersfees is nie ’n sentimentele wag vir 'n baba om gebore te word nie. Dit is eerder 'n gebed vir geskiedenis om gebore te word!" Dít is vir hom hoop: ’n uitsien na wat God gaan doen, ten spyte van - en juis in die aangesig daarvan - dat vandag se realiteit baie anders lyk, en dat die verandering waarop ons hoop selfs onrealisties blyk.
Maar hoop is nie 'n eenkant-staan, passiewe wag nie.
Die 13e eeuse mistikus, Meister Eckhart, sê ons is almal bedoel om die moeders van God te wees. Hoewel die geboorte van die Seun deurentyd moet plaasvind, het dit min waarde vir my as ek nie ook elke dag, in my tyd, en in my kultuur, aan Christus "geboorte gee" nie.
GEBED: En daarom bid ek vandag vir die Altyd-komende God: "Maranatha, kom Heer Jesus" – nou, vandag, hier in Randburg, Suid Afrika, deur my en in my.
Vandag se gasskrywer, Lyn van Rooyen, is ‘n kommunikasie-konsultant en redakteur vir die Wêreldraad van Kerke.
(*Richard Rohr, The Theological Virtue of Hope, https://bit.ly/3EPM8AR)
CORDIS TRUST
Hierdie reeks word as Potgooie beskikbaar gestel deur die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust
www.cordistrust.co.za
Luister by: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK
Op Lyn se aanbeveling kyk ons op Dag 26 van #Lig na die inspirerende musiekvideo van "We Have Hope" deur Joe L Barnes, Jonathan Traylor & Lizzie Morgan.
"We Have Hope" is geskryf deur Timothy Reddick, Nate Moore, Dante Bowe en Joe L Barnes. Dit is die eerste enkelsnit van Tribl Records se nuutste album, 'Tribl Nights Atlanta', wat in November vanjaar vrygestel is.
Uit die liriek:
As I walk through the valley
Of darkness and shadows
Even in death I will not fear
Because there’s more that follows
We have hope in Jesus
(Our) Present help, and Redeemer
As long as I am still breathing
There is hope in Jesus
We are pressed on every side
But we won't be shaken
Come what will, come what may
We are not forsaken, forsaken
We have hope in Jesus
https://youtu.be/9kJVDhRewmo