Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 30 van dagstukkie-reeks Lig

December 30, 2021
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 30 van dagstukkie-reeks Lig
Show Notes

Het jy al aan jou nuwejaarsvoornemens begin dink?  Ek praat nou nie van daardie vergesogte idees wat teen die einde van Januarie al vergeet is nie.  Ek praat van jou geloofsverwagtinge:  watter tipe mens wil God hê moet jy wees?  Watter dinge in jou lewe moet “uitgeoefen” word?  Watter nuwe gedrag moet “ingeoefen” word?   

Die einde van die jaar is altyd ‘n nadink-tyd.  Dit is ‘n goddelike geskenk as jy – biddend – bestek opneem van jou lewe.  “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is” (Ef 5:10).   Waar is daar terreine in jou lewe waar jy nalaat om ‘n “Christus nabootser” (5:2) te wees?  Is jy in jou lewe besig om “in alle opsigte (te) groei na Christus toe” (Ef 4:15)?   

Een vereiste om ‘n suksesvolle voorneme te laat realiseer is dat jy ‘n goeie plan moet hê.  Dit is die “riglyne” wat jy wil volg om by jou doelwit uit te kom.  Kyk maar na die Efesiërsbrief, herhaaldelik vertel Paulus vir hulle:  hier is hoe julle moet leef; en dan net daarna sê hy, hier is die riglyne om daarby uit te kom.  

Ons mag nooit aanvaar dat ons “só gemaak, en só laat staan” is nie!  Tot met ons laaste uitblaasasem leef ons in die oefenruimte wat ons “lewe” noem.  En – algaande – word ons meer wat ons bedoel is om te wees.  En hoe is ons bedoel om te wees?  Of jy leef in die donker … of jy leef in die lig?  “In die Here is julle lig.  Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is” (Ef 5:8-9).  

Jou status is om “soos Christus” – die Lig – te wees.  Wéés dit dan, moedig Paulus ons almal aan.  Maak dít jou 2022-doelwit.


MUSIEK

Op Dag 30 van #Lig kyk ons na ’n musiek-video van die lied “Meer Soos Jesus” deur die bekende Suid-Afrikaanse sanger  Willie Joubert. 

Uit die liriek:

Elke treetjie wat ek loop
Wil ek vashou aan die hoop
Dat U binne in my werk
En my verander
Want ek wil meer
Soos Jesus wees
En ek wil doen
Wat U begeer

https://youtu.be/8LB92RS8VAU