Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 31 van Dagstukkie-reeks Lig

December 31, 2021
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 31 van Dagstukkie-reeks Lig
Show Notes

Dit voel vir my asof elke jaar vinniger verbygaan as die vorige een!  Is dit omdat ons besiger is?  Is dit omdat ons almal elke jaar ‘n jaar ouer is?  ‘n Jaar nader aan ons dood?  

‘n Nuwe jaar is soos ‘n nuwe boek:  jy vat-vat versigtig, bang om ‘n vuil kol te laat; tog net nie al op die eerste bladsy ‘n spelfout maak nie.  Dit simboliseer iets van jou verwagtinge vir wat voorlê – mag dit tog ‘n mooi jaar wees!   “Voorspoed” wens ons mekaar toe;  al weet ons, die lewe gaan vir ons iets van alles aanbied.  Maar een ding het ek by die ou Kerkvader, Benediktus (5de eeu), geleer (en sedertdien is dit vir my ‘n lewensriglyn):  A-S-A, of te wel:  “Always Start Again”.  Elke dag is die begin van ‘n nuwe jaar.  ‘n Nuwe dag, ‘n nuwe kans.  En sou ek gister se bagasie vandag wil saampiekel, gaan die dag swaar begin, nog voor ek eers probeer het.  Dus: A-S-A!

Die beste manier hoe jy die nuwe jaar kan ingaan, is om jou te herinner dat God se genade elke dag nuut is.  Dit gee hoop!  Soos die Klaaglied-skrywer sê, “daar is geen einde aan die Here se ontferming nie, dit is elke môre nuut” (Klaagl 3:23).  Beskou elke dag van hierdie nuwe jaar as ‘n opstandingsdag; ‘n dag van hoop en nuwe lewe.  Dan sal jy ontdek “hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.”  Met presies dieselfde krag werk God daagliks in jou lewe, as waarmee God – kragdadig – vir Christus uit die dood opgewek het  (Ef 1:19-20).  

My persoonlike gebed vir jou is dat jy en jou geliefdes in 2022 hierdie krag van God intiem sal leer ken!   

GEBED:  Laat ek nooit vergeet dat U ontferming vir my elke oggend kraakvars-nuut is.    




CORDIS TRUST

Hierdie reeks word as Potgooie beskikbaar gestel deur die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust
 
www.cordistrust.co.za

Luister by: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

 
Op #Dag 31 van #Lig, nie net die einde van ons reeks nie, maar ook die einde van 2021, kyk ons na die hoopvolle en inspirerende musiekvideo van “Lig op die Horison” deur Joshua na die Reën wat saam met die revue-groep van die Laerskool Thabazimbi optree. 
Die revuegroep het sedert Maart baie hard aan die sang- en instrumentale afdeling van die lied asook die choreografie gewerk.  Covid en die strawwe inperkingsmaatreëls wat daarmee saamgegaan het, het tot gevolg gehad dat die hele produksie vir drie maande tot stilstand gekom het.

Uit die liriek:
Ons soos vure brand in die donker nagte, staan ons
Soos lig op die horison
Jou verlede as is gestrooi
Waar jou oë weer die mooi sien, in die lig op die horizon

https://youtu.be/XH8tkh1hEx8