Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 1 van meditasie-reeks #Carpe Diem

January 01, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 1 van meditasie-reeks #Carpe Diem
Show Notes

Op 31 Desember dink ‘n mens terug oor die goed én die sleg van die voorafgaande 365 dae se geleefdheid; maar – dankie tog – op 1 Januarie kan jy die stof van ‘n ou jaar afskud en weer oor begin.  Al die goor gedagtes, selfs moedeloosheid, kan diep in die onderste laai gebêre word. ‘n Nuwe het aangebreek.  Hoe sê ons mos:  dinge kan nou net beter gaan!   

Ek wonder hoe afgeleef die Israeliete destyds gevoel het:  eers was dit vierhonderd jaar van slawerny in Egipte, toe vier dekades se trek deur die barre woestynland.  Soos dorstiges wat water afsluk, so moes hulle na Moses se beloftes geluister het: anders as in die drooggeteisterde Egipte, sal Kanaän met reënwater nat gemaak word - die toppunt van God se seën (Deut 11:10-11)! Hoor net hierdie buitengewone rykdom wat op hulle wag:  “Dit is 'n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor” (11:12).

Ek wil hierdie woorde onthou!  Neerskryf in my hart!  Die woorde moet soos deurdringende reën oor my uitsak wanneer ek gedurende die jaar wat voorlê wonder “wat van God geword het?”  Want ja, dat daar swaarkry-tye in die jaar sal kom, daarvan kan almal maar seker wees.  Maar mag ons onthou:  “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (2 Kron 16:9).  Onthou om te onthou:  “Die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie” (Ps 121:4).  Onthou om te onthou: “Van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog oor ons.”


Dit is nie omdat die jaar heeltyd klopdisselboom gaan verloop dat dit ‘n goeie jaar gaan wees nie!  Dit is omdat die jaar aan God behoort!  


GEBED

Dankie dat ons vir 2022 mag bid, Here.  Wetend, U hou ononderbroke wag oor elke dag.


POTGOOIE SAAM MET CORDIS TRUST 

Jy kan die dagstukkies van die #CarpeDiem -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg met die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/




MUSIEK



Op Dag 1 van #CarpeDiem en van 2022 kyk ons na die pas vrygestelde musiekvideo “Wolke” van die aanbiddingspan van die Vredelust Gemeente in Kaapstad.  
Uit die liriek:

As Hy kom op die wolke
Kom Hy om ons te kom haal
Op die wit perd met die septer
In sy hand

Here Jesus U is almagtig
Ons getroue krag
Elke nasie sal buig voor U
Want die hemel is oop
Die hemel is oop            

Wolke is geskryf deur Clement Martin en Anneke Human. 

https://youtu.be/gtaP6dQ9N54