Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 5 van meditasie-reeks #Carpe Diem

January 05, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 5 van meditasie-reeks #Carpe Diem
Show Notes

“Dit was nou’ie dag die begin van ‘n nuwe jaar en hier is ons alweer by ‘n volgende een!”  Hierdie woorde het jy dalk self in die afgelope week of wat gesê …  Ek het!  Hoe ouer ek word, hoe meer ontdek ek, die lewe is ‘n oogknip lank.  Of soos die Psalmdigter skryf, “ons jare skiet verby soos 'n gedagte” (90:9).  
Dit is dus ‘n goeie vraag:  hoe leef ‘n mens ‘n betekenisvolle lewe?  Veral as jy nie die einde van jou lewe met berou en spyt wil bereik nie?  Die probleem is dat jy nooit weet wanneer die einde sal aanbreek nie.   Sommige mense mag dalk dink dat ‘n betekenisvolle lewe met meer avontuur te make het.  Vir die skrywer van Psalm 90 was ‘n verspeelde lewe iemand wat nie wysheid bekom het nie.  Om ‘n wyse mens te word, is die hoogste doelwit wat jy aan jouself kon stel!  “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom,” bid hy (v12).  Of, soos die 1953-vertaling sê, “leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!”  Hoe tel wyse mense dan hulle dae?  Eintlik beteken dit dat jy só leef asof vandag die laaste dag van jou lewe is.   
In die psalmdigter is wysheid gelykgestel met die dien van die Here; insig is om die Here te ken. “As jy wysheid het, sal jy lank lewe, jou lewensjare sal vermeerder word” (Spr 9:10).  Nee, jy hoef nie langer te leef nie; die dae wat jy het sal genoeg wees.  Maar jy sal elke dag leef asof dit die beste dag van jou lewe is.   

Mag jy vandag oefen om so te leef!

GEBED:  

Here, maak van my lewe ‘n betekenisvolle lewe!


POTGOOIE SAAM MET CORDIS TRUST 

Jy kan die dagstukkies van die #CarpeDiem -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg met die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/



MUSIEK 

Op Dag 5 van #CarpeDiem kyk ons na ’n musiekvideo van die A Cappella-groep  Eclipse 6 se uitvoering van Louis Armstrong se “What a Wonderful World”.
Die groep skryf: “Die afgelope jaar het ons gehelp om te onthou dat ons in 'n heeltemal asemrowende wêreld vol verwondering leef. Omdat ons nie die afgelope twaalf maande kon reis kon ons meer tyd spandeer met ons gesinne en die skoonheid van die wêreld rondom ons geniet, veral dit wat ons so naby aan die huis het.  Alhoewel ons almal die afgelope jaar intense gevoelens van onsekerheid, verwarring en selfs hartseer ervaar het, het ons ook geleer dat ongelooflike geluk maklik net een stap weg kan wees. Een oproep of virtuele besoek weg, een sonsondergang weg. Een staptog, bordspel of stap om die blok weg.  Die bronne wat ware vreugde bring, is letterlik oral. Die wêreld waarin ons leef, is vol verwondering, vol skoonheid en vol geluk.  Van die diversiteit van mense daarin tot die wonders wat in die natuur gevind word.” 


https://youtu.be/Tin3xyfbWOE