Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 3 van Meditasie-reeks #CarpeDiem

January 03, 2022 Ronell Bezuidenhout
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 3 van Meditasie-reeks #CarpeDiem
Show Notes

Die begrip “Carpe Diem” kom van die Romeinse digter, Horatius (23 n.C.) af.  Hy het geskryf:  “pluk die dag.”  Dit is selde dat ons die res van sy sinnetjie byvoeg:  Pluk vandag, maar, “vertrou so min as moontlik op more."  Leef nét vir nou!  Dit is maar ‘n baie fatalistiese siening as jy my vra.  Christene is nooit fatalisties oor die toekoms nie, juis omdat die toekoms aan God behoort.  Ons hoef nie bekommerd te wees oor more nie (aldus Matt 6:34).  Om die waarheid te sê, ons hoef nie eers oor hierdie oomblik bekommerd te wees nie.

 

Maar,“Carpe Diem” (pluk die dag) is wel leersaam.  Versigtig, met beide hande, gaan jy te werk – bang dat jy dalk die vrug kan kneus.  Só behoort ons met ons dae om te gaan.  Omdat die lewe kosbaar is.  Dis makliker gesê as gedaan!  Ons lewe is allesbehalwe een asemrowende avontuur.  Vir die meeste van ons is daar baie vervelige ure in ons dag; en more herhaal dit.  Hoe gryp ‘n mens alledaagsheid met beide hande aan?  Of teleurstellings, of eensaamheid, of die pynlike van die lewe?  Is Carpe Diem regtig moontlik?

 

Ja, as “Carpe Deo” vir “Carpe Diem” voorafgegaan.  M.a.w., gryp eers vir God aan.  Eers wanneer jy jou hande uitsteek om aan God vas te hou (of eintlik andersom, dit is God wat ons vashou), dan kan jy met “Carpe Diem” leef.  Jy weet dat jy binne die greep van God se hande leef, daarom mag jy maar hierdie dag voluit leef.  “Carpe Diem” impliseer dat jy die waarde van hierdie dag verstaan, wetend, daar gaan nooit weer ‘n vandag wees nie!   Dan word elke dag soos Psalm 118:24 leer:  “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

 

GEBED  

 

Here, leer my hoe om te leef soos dit U gelukkig sal maak:  voluit. 

 

 

POTGOOIE SAAM MET CORDIS TRUST 

 

Jy kan die dagstukkies van die #CarpeDiem -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg met die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

 

 

 


MUSIEK 

Op Dag 3 van #CarpeDiem luister ons na “Dit Is Die Dag” deur die  Maranatha Sangers.

 

https://youtu.be/UU4LYWhYbhQ