Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 11 van meditasie-reeks #Carpe Diem

January 11, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 11 van meditasie-reeks #Carpe Diem
Show Notes

“Die lewe is ‘n lied.”  Dit hang natuurlik af van hoe die lewe jou behandel.  Soms is dit ‘n klaaglied met hartseer mineurklanke wat jy moet sing.  Daar is beslis tye wat dit nie maklik is om jou “seëninge” te tel nie.   Ek dink nou aan daardie een wat vandag met die Prediker sou assosieer wat kla, “Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan. Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op 'n pad sonder lig” (Pred 3:1-2).  Dit is nie altyd fisiese ellende nie.  Soms is die swaarste pad wat jy kan loop, daardie donkerte wat jy in jou gemoed beleef.  Soos die Prediker skryf, “Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak” (3:7 1953-vert).  

My geloofsbegeleier het altyd gesê ‘n mens moet jou geloofsgewoontes getrou inoefen sodat dit jou regop hou wanneer jy nie self regop kan bly nie.  Dit is waar!  Daar kom tye dat jy net op die enkele wete aanhou bly leef:  “As Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot” (3.32).  

Wanneer jy  daardie groot Liefde al ervaar het - én daaraan vashou - dan kan jy maar tussendeur al die mineurklanke soms ‘n majeurnoot laat inglip.  Die wysie sal verander.   Al voel dit nie nou so nie.

GEBED:  HERE, dit gaan dalk nie nou met my so swaar nie; maar laat my op die uitkyk wees vir iemand wat my hulp nodig het.  Wetend, U sal weer iemand op my pad sit wat by my kan inhaak wanneer ek kruppel loop.
 
MUSIEK: Op Dag 11 van #CarpeDiem kyk ons na die nuwe musiekvideo van Johan Anker se   “Oorwinningslied”.

Uit die liriek:

Ek sien in my gees die glorie
En die almag van die Heer, die allerhoogste
Wat in liefde oor sy koninkryk regeer
Hy't belowe aan die einde
Op die wolke kom Hy weer
Hy is koning, Hy regeer
Loof Hom, prys Hom, hallelujah

Die video is vervaardig deur Hercules Botha vir ADD Markable by die St. Marks Kerkie in Gqeberha (Port Elizabeth). 
https://youtu.be/S6K1ZDSeHEc

POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #CarpeDiem -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg met die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/