In die huise waar daar ‘n nuwe Graad 1’tjie is, is daar vandag baie om te doen! Oor-en-oor verseker mamma’s: “alles sal goedgaan, en na skool sal ek vir jou by die hek wag.” Jy herhaal die woorde sodat dit soos ‘n rympie word wat jou kind kan onthou. Wanneer sy onveilig voel moet sy weet, “my ma wag vir my by die hek.” Nuwe fases vra ook nuwe huisreëls: eers trek jy skoolklere in die middag uit, dán eet ons. Dit word elke dag só ingeoefen totdat dit later “tweede natuur” is. Tas moet saans gereed gemaak wees vir die volgende dag, ons wil nie moreoggend jaag nie. Só het elke huis hul “gewoontetjies” wat die “bestuur” van die huis makliker maak.
Dit is presies wat my geloofsbegeleier bedoel het (sien Dag 10). Hy is nou al jare dood, en steeds hoor ek hom sê, “Practice the discipline and the discipline will keep you.” Ons moet almal “geloofsgewoontes” hê wat – veral op die slegte dae – die “bestuur” van ons lewens vergemaklik. Wanneer Paulus vir die jonge Timoteus lewensriglyne gee, dan sê hy eintlik: fokus op die regte dinge. “Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe” (1 Tim 4:7). Of soos die NIV dit stel, “Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid”. Paulus daag Timoteus uit om nie by die “Graad 1”-gewoontes vas te haak nie, maar om hom te oefen om ‘n geestelik-volwassene te word.
Daardie woordjie “liewer” maak al die verskil: “oefen jou liewer…” Ons lewe bestaan uit keuses! Kies reg. Kies toewyding!
GEBED: Here, maak van hierdie dag ‘n “Carpe Diem”-dag waar ek met toewyding liewer aan U getrou bly.
MUSIEK: Op Dag 12 van #CarpeDiem kyk ons na ’n musiekvideo van “Last Page” deur die bekende Koreaanse groep Levistance. Die lied is deur Esther Kim, Haein Park en David Min van die groep geskryf.
Uit die liriek:
In days when Spring flowers bloom with sweet fragrance,
In days of summer showers pouring down on me,
In days when rich autumn colours fill the streets
All I want is to walk beside You
Even when snowstorms come to swallow me,
Even when fierce winds rage against me,
I am left alone with nothing but shame alone
Seeing His hands reaching out to me overwhelms my heart
LEVISTANCE is 'n kontemporêre aanbiddingsmusiekgroep van The Cross Church en Korea House of Prayer in Seoel, Suid-Korea. Hulle naam is 'n kombinasie van twee terme, Weerstand en Leviete.
https://youtu.be/A-ruST9YyrY
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #CarpeDiem -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg met die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/