Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 13 van meditasie-reeks #Carpe Diem

January 13, 2022
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Dag 13 van meditasie-reeks #Carpe Diem
Show Notes

Die skrywer, Annie Dillard, skryf in een van haar boeke:  “Hoe ons ons dae spandeer, is natuurlik hoe ons ons lewens spandeer. Wat ons met hierdie uur en daardie een doen, is wat ons doen.”   Jy kan die beste drome vir jou lewe hê, maar gaan kyk bloot hoe jy gister en eergister opgetree het... 

Een van die mooiste dinge wat ek by Jesus leer, is hoe Jesus soos ‘n “gewone mens” geleef het.  Hy eet en drink en hou troues en berei selfs ontbyt op die strand.  “Soos sy gewoonte was” (Luk 4:16) het hy saam met sy mense sinagoge toe gegaan; en “soos sy gewoonte was” om homself eenkant af te sonder, het hy sy vriende ook eenkant toe laat gaan om te rus (Markus 6:31). Ons maak van geloof soms iets “buitengewoon” en dan dink ons dit is belangriker as die alledaagse.

Hoor net Paulus se wysheid:  “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor 10:31).  In Kol 3:23 sê hy dieselfde “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.” M.a.w. jy gaan God nie vandag méér raakloop wanneer jy met die oop Bybel op jou skoot sit, as wanneer jy bed-opmaak en skottelgoed-was en kinders-skooltoe-ry nie.  Jou sit in jou motor in die verkeer of voor die rekenaar is net só ‘n heilige aktiwiteit as jou baba se doek wat jy omruil.

 Annie Dillard sou dus eerder kon sê,  “Hoe ons ons dae spandeer, is hoe ons ons lewens spandeer ... maar laat dit tot God se eer wees.”

GEBED:  Here, laat my dae nie maar net by my verbyglip nie; leer my om U in alles te ontdek.


MUSIEK:  Op Dag 13 van #CarpeDiem luister ons na “Sing Tot Eer Van Die Here” deur  
Anneli van Rooyen. 

https://youtu.be/50hfBQJO3io


POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #CarpeDiem -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg met die ondersteuning van die “Boodskap van Hoop”-inisiatief van Cordis Trust.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/